Ons maak ons so plat as moontlik in die vlak gruissloot. Die trop springbokke bly egter ver en skrikkerig. Ons hou nogtans by ons hinderlaag – lê laag en hinder niemand nie. Dan fluister Abrie skielik: “Pa, gou, maak reg! Hier kom ’n ram van links af aan.” Ons skarrel soos drie muishonde rond toe ons vinnig en ongesiens probeer plekke ruil.
Toe die ram skuinsweg op sowat 90 meter gaan staan, skiet ek my enigste skoot vir die jagnaweek. Die ram hardloop seker nog so 300 meter met die longskoot. Gelukkig is die Noord-Kaap lekker plat veld.
My jongste seun, Abrie, het SA JAGTER/HUNTER se storieskryfkompetisie vir jonger jagters in 2020 gewen. Sy prys, ’n blouwildebeesbul, ’n springbokram en ’n vlakvark, kon hy by Mynhard Herholdt se Noord-Kaap Professionele Jagskool gaan jag.
Natuurlik wou ek en Abrie se skoonpa albei saamgaan. Die jagplase Panorama en Hondeblaf is reg langs die Vanderkloofdam in die Noord-Kaap geleë. My buurman vertel my toe dat Hondeblaf een van die heel beste varswaterhengelplekke in ons land is, en net