Ek lê aan vir die trefskoot. My vinger span om die sneller en my asem word ’n fluistering in die Bosveld se stilte. My oë is skerp gefokus, maar voor ek kan vuur, word die rustige atmosfeer deur ’n skie-like skreeu verbreek: “Kwê!” Die koedoe verstar in sy spore, lig sy kop en spits sy ore vir gevaar. Ek skel stil-stil in my binneste oor die ongewenste inmenging, maar herwin dan my kalmte.
Ek lê weer aan op die majestueuse koedoe se kop, sy ore ritmies aan die beweeg soos hy die lastige vlieë probeer afskud. Deur my teleskoop sien ek die kop-kolskoot. “Kwê!” skree die kwêvoël weer. Die koedoe gee ’n ruk-pluk-skud-spring-vertoning en laat spaander die ruigtes in sonder om terug te kyk. ’n Golf van frustrasie trek deur my lyf, my bloed