TELKENS wanneer die Springbokke in ’n Wêreldbekerrugbytoernooi speel, het hulle ’n reuseteiken op hul rug omdat hulle is wie hulle is. Hierdie keer sal die teiken nog sigbaarder wees gegewe hul status as verdedigende kampioene.
Die Bokke het nog nooit die Webb Ellistrofee agtereenvolgens gewen nie, en geen span het die toernooi al vier keer gewen nie. Dít is die geskiedenis wat vanjaar vir die Suid-Afrikaners in Frankryk op die spel is. En weer sal hulle die uitdaging onder die leierskap van Rassie Erasmus en Jacques Nienaber aanpak.
Die twee mans het Springbokrugby in 2018 oorgeneem toe die span ná twee moeilike jare onder Allister Coetzee op ’n laagtepunt was. Jacques het bevestig die Wêreldbekertoernooi van 2023 sal sy laaste hoofstuk by die Springbokke wees, en hy val van volgende jaar af by die Ierse klub Leinster in. Maar sy bydrae saam met Rassie tot Bokrugby was enorm.
In 2019 het die Springbokke baie onder die radar by die Wêreldbekertoernooi in Japan aangekom. Hul siklus van vier jaar is ernstig deur Allister se afdanking ontwrig. Dit het Rassie en Jacques met net 18 maande gelaat om vir die toernooi voor te berei.
Die resultate was in daardie tydperk swak. En al het die Bokke tog goeie peil getoon in die aanloop tot die Wêreldbeker, het ’n nederlaag van 23-13 teen Nieu-Seeland in hul eerste wedstryd van die toernooi in Yokohama daarop gedui hulle was dalk nie gereed vir ’n uitdaging om die titel nie.
Maar intern het Rassie die span baie goed voorberei en hulle het ’n duidelike, vereenvoudigde speelplan gehad. Hulle sou ’n kragspel speel met ’n klem op skrum-en losgemaaloortredings en gebiedsoorheersing deur te skop.
Die Bokke was bereid om met omgekeerde balbesit aan te val, maar hulle sou glad nie in hul halfgebied risiko’s neem nie, want