Vir jare het daar ’n beeldjie op my pa se lessenaar gestaan met die inskripsie “Gewond maar nie Oorwonne”. As kaalvoetseun het ek baie gewonder wat dit eintlik beteken, wetende dat dit eendag baie relevant in my jagervaringe sou wees.
Lank gelede, op ’n koue Dinsdagaand, ry ek tussen Bronkhorstspruit en Witbank teen ’n Suid-Afrikaanse Brouerye-trok vas. Ek het sleg seergekry en onder andere my knieskyf vergruis. Dertig jaar later keil die knie my behoorlik op en die Nieu-Seelandse Gesondheidsraad besluit om my te help.
Ek moes sommer geweet het dinge sou goed gaan toe ek my ortopediese chirurg in Taupo ontmoet en sy naam Francois van der Westhuizen is. ’n Mens voel mos sommer veiliger in die bekwame hande van een van jou eie mense hier in die vreemde. Boonop vat dit ook nie lank nie of dr. Francois vertel my van sy .25-06 en .375. ’n Suid-Afrikaanse dokter wat in Nieu-Seeland jag – wat ’n wenkombinasie!
Ná die operasie is ek onder streng opdrag om vir ’n paar weke nie gewig op my been te plaas nie. Gelukkig het ek nie gips nie, kyk en jagvideo’s raak ook maar vervelig ná ’n ruk. My gewere is naderhand soveel keer skoongemaak dat hulle wegkruip as ek net kluis se kant toe beweeg. Al my leë doppe is noukeurig gelaai, asook dié van my buurman en sommer nog ’n paar ander pelle.