Die trop elande wei rustig weg van ons af. Ons sit plat in die skaduwee van ’n taaibos en wag tot die laaste een oor ’n lae rantjie voor ons verdwyn. Dan staan ons op en volg die trop. Agter die rantjie is ’n reeks vlak klofies wat soos ribbebene van die berg af loop. As die elande iewers in ’n kloof of teen ’n rif gaan staan, het ons ’n goeie kans op sukses. Dit is die jong jagter se eerste eland. Om die waarheid te sê, dis sy eerste bok groter as ’n rooibok. Hy is erg opgewonde en effens benoud. Sy skoonpa betaal vir die eland. Hoe gelukkig kan ’n jong jagter wees?
Ons stop onder die kruin van die rantjie en ek beduie dat hy sy geweer moet laai. Hy stoot ’n rondte in die .308 Howa se loop, sit die veiligheidsknip op en vroetel met die 6-24x50 Nikon. “Hou die vergroting laag,” fluister ek in sy oor. Hy knik.
Ek loer om ’n bos op die rantjie; teen die oorkantste hang staan ’n halfdosyn elande. Effe eenkant, langs ’n groot rooi rots, staan ’n jong bul. Ek maak die skietstokke staan sodat die jagter net-net om die regterkant van die bos kan sien en beduie hy moet aanlê. Dan verduidelik