Dit was seker so 1968. Snags kon ons nog na Shangaan-dromme luister wat in Mosambiek begin dreun het, die kusvlakte oorvloei het en dan die Drakensberge getref het. Wat daar-van geword het nadat dit die Laeveld verlaat en die Draak se berge na beskaafde Suid-Afrika oorgesteek het, weet ek nie, want dit het nooit die Hoëveld gehaal nie.
Maar op die Klaserievlakte was ons maar net ons – wintertydjagters. Dan het ons snags om ons hardekoolvuurtjie se wonderprentjies met moerkof-fie en kondensmelk in die hand saamgesit. Ons woordeloos ver-wonder aan die veraf jakkalstjanke, hiënas se giggels net-net buite die ligkring van ons vuur en leeukreune effe verder weg. Dit was my winternag-kindlewe. Snags het ek en die nagapies mekaar in die bome afgeloer. Bedags het ek wegkruipertjie met nuuskierige kameelperde gespeel en vir knorrige olifante weggehardloop.
Ander dae was dit rowwer – soos daardie droë jaar op Rietvlei en Argyle. Die weiding was min en die bokke swak. Die leeuwyfie, haar bywyf en drie welpies het hulself by ’n Rietvleiwatergat ingeboek en soggens en saans teen drinktyd verwoes-ting onder die savanna se maer dorstiges gesaai. Toe wip my pa sy alie vir die leeuteef en verklaar oorlog. Vroegmôre, toe die visiere nog skaars gesien kon word, het