MET die eerste 15 km agter die rug kry sy ’n steekpyn in haar sy soos nog nooit tevore nie. Maar sy byt vas. En toe sy die eindstreep van die Twee Oseane-halfmarathon oorsteek, is dit asof sy die kruin van haar persoonlike Everest bereik.
“Ek het nooit gedink ek sal eendag 21 km ver kan hardloop nie!” deel die skraal blondekop daarna op Facebook.
Want Lize de Villiers (22) het sistiese fibrose, die seldsame chroniese toestand wat die longe, pankreas en immuunstelsel aanval. Dokters het destyds gevrees sy sal nie haar tienerjare haal nie. “Nee wat, om met sistiese fibrose saam te leef is nie ’n doodsvonnis nie,” sê sy vandag by haar ouers, Lorette en Hendrik, se huis op Stellenbosch. “Ek wil elke dag voluit lewe.”
Dis hoe sy nog altyd gelewe het, ondanks haar gesondheidsuitdagings.