Net meer as ’n kwarteeu gelede het die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte (Wet 47 van 1996) die 1920’s se beheerrade afgeskaf en aan die private sektor vrye teuels gegee om landbouprodukte oor die wêreld heen te bemark.
Mnr. Wayne Mudge, wat op ’n appel-enpeerplaas by Vyeboom grootgeword het, was pas terug in die land ná ’n paar jaar in Engeland en Skotland toe die wind van verandering hom aanspoor om die droom van ’n eie besigheid, wat hy van jongs af gekoester het, te verwesenlik. Ook het die landbou-akademikus prof. Eckart Kassier al op universiteit saadjies in sy kop geplant.
“My oupa en ouma was nogal onkonvensioneel. Hulle was Engels en anders as al die mense om ons. Kassier se idees om dinge anders te doen, het my dus geïnspireer. Ek het altyd gedink Suid-Afrika se vrugtebedryf kan nie die werklike geleenthede ontsluit onder regulering nie. Dit was beperkend dat een liggaam eensydig vir boere sê wat hulle kan uitvoer, waarheen en teen watter prys.”
Die 29-jarige Mudge het Cape Five saam met vier vennote – mnre. Peter Degens, Tom Snoek, Peter Newton en Chris Baard – begin. “Ek en Peter (Degens) was in die motor en het name rondgegooi vir die onderneming. In Engeland of Europa het mense daardie tyd gepraat van Kaapse vrugte, nie Suid-Afrikaanse vrugte nie.
“Dit was my idee om daardie verbintenis te behou. Peter was dol oor jazz en daar was ’n band met die naam Take Five. Hy stel toe Cape Five voor, en dit is die naam wat ons gehou het,” vertel Mudge laggend waar ons in sy kantoor met ’n uitsig oor ’n vleiland op Somerset-Wes sit.
Hy is die enigste van die oorspronklike vyf wat nog