KORTOM
■ Evalueer eers jou kragverbruik, optimaliseer en bepaal dan jou behoefte aan alternatiewe energie.
■ Verhoudinge is belangrik as jy ’n netwerkgekoppelde stelsel oorweeg.
■ Selfs klein stelsels bring besparing mee.
Net soos beurtkrag volgens die meeste ekonome tans ’n opgetrekte handrem vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is, hou onvoldoende elektrisiteitsvoorsiening die hele vasteland se ontwikkeling terug. Mnr. Johan de Vos, energiekenner en voorsitter van Gigajoule International, sê daar woon tans 1,1 miljard mense in Afrika en oor 30 jaar gaan die bevolking na verwagting verdubbel tot sowat 2,2 miljard.
“Dit gaan ’n reuse-verantwoordelikheid op die landbousektor plaas om vir so baie mense voedselsekerheid te bied en daardie verantwoordelikheid gaan hoofsaaklik op Suid-Afrikaanse boere gelaai word,” het hy tydens Landbouweekblad se onlangse Gee my Krag-webinaarreeks oor energie-oplossings gesê.
“Boere gaan bekostigbare en betroubare elektrisiteit nodig hê om dit te doen.”
Soos baie Suid-Afrikaners is De Vos bekommerd oor die nasionale energieverskaffer se vermoë om die kastaiings uit die vuur te krap en in hierdie groeiende energiebehoefte te voorsien.
Eskom het in 2007 vir die eerste keer beurtkrag in Suid-Afrika toegepas om die las op die nasionale kragnetwerk te verlig terwyl nuwe kragsentrales, naamlik Medupi en Kusile, gebou word.
Dit is nou 15 jaar later en terwyl Medupi en Kusile steeds sukkel om op dreef te kom,