Terwyl ons voor die warm antrasietstofie sit, het ek gehoor oom George kry toestemming by my pa, oom Lawry, dat ek en neef Walter ’n draai kon stap vir ’n ribbok nadat ons die merinoooie en -lammers in die ou waenhuis gaan toemaak het vir die verwagte nagtemperatuur van onder vriespunt op Koppiesfontein. Voor ons na die veepos koers gekies het, het ek vinnig elke moontlike stuk klere aangetrek sodat my maer laerskoolseunlyf soos dié van ’n Oros-mannetjie gelyk het.
Met die ooie en elkeen se kroos veilig en warm vir die nag, het Walter my pa se Sako Vixen in .222 Remington in my hande gestop. Ek het met moeite by die haastige man se groot treë gebly en amper op ’n drafstap gevolg terwyl die suidewind ons reguit van voor storm. Dit het gevoel of ek kort-kort met ’n karwats in die gesig gepiets word soos my wange gebrand het.
Ywerig maar onervare
’n Straaltjie grys bokkies aan die voet van Stylberg, tussen die groot besembosse wat skuiling teen die yskoue wind bied, het haastig bergop beweeg, hulle wit kwassterte omhoog. Deur die teleskoop het dit gelyk of elke bokkie soos ’n gesoute gimnas op ’n trampolien bons weens my