HY WORD allerweë beskou as die beste kaptein in die geskiedenis van Springbokrugby, ’n ware leier wat sy span en land laat glo enigiets is moontlik.
Maar Siya Kolisi het selfs meer geword as ’n rolmodel vir sy landgenote. Hy is ná die Bokke se triomf in twee opeenvolgende Wêreldbekertoernooie ook wêreldwyd ’n inspirasie.
Van sy kinderdae in Zwide in die Oos-Kaap en die swaarkry van armoede het hy sy pad oopgespeel tot in die stadions van die internasionale rugbywêreld – en daarmee saam die verbeelding van rugbygeesdriftiges oud en jonk aangegryp.