Dit is my ou vriend Jean Marais wat hulle eerste gewaar – ’n troppie rooihartbeeste daar waar die rante van die Mooikloof ’n 90°-
hoek vorm. Die hartbeeste is ’n goeie kilometer weg van ons af en ons bekyk hulle deur ons verkykers. Ons retireer tot agter ’n lae randjie en bespreek ons strategie. Die hartbeeste wei laag teen die hang, naby ’n groot olienhoutboom. Indien ons die terrein reg gebruik, behoort ons binne skietafstand te kom. Die wind, uit die noorde, is in ons guns wanneer ons laag teen die hang langs begin bekruip.
Die hang is klipperig en ons vorder stadig. Nou en dan moet ons om of oor ’n groot rots klouter. Dit neem ons byna ’n uur om tot binne 300 meter van die troppie te kom. Ek loer versigtig oor ’n groot, plat rots. Die hartbeeste is op dieselfde plek waar ons hulle laas gesien het. Daar is twee bulle in die trop – een jong bul en ’n groot ou donkerrooi trofeebul met ’n mooi stel horings. Jean is nie ’n trofeejagter nie en die jong bul is die een waarna ons soek. Die groot bul en