KORTOM
■ Jare van bewaringsboerdery en ’n sterk klem op vogbewaring help twee buurmanne van Heidelberg wat net plant om goeie oeste en ’n opbrengs op hul besteding aan insette te behaal.
■ Ter wille van vogbewaring het hulle geen verdraagsaamheid teen onkruid nie, en verkies hulle ook om nie met vee te boer nie.
■ Danksy min versteuring, die behoud van ’n organiese deklaag en wisselbou kon hulle ’n veegebied in ’n saaigebied omskep, maar hulle probeer nie ander boere oortuig om hul patroon na te volg nie.
Die nalatenskap van meer as 30 jaar van bewaringsboerdery, ’n oortuiging dat gewasverbouing sonder diere die beste vir hul omstandighede is, en goeie metodes om die groter risiko te bestuur, het twee buurmanne van Heidelberg laat besluit om nét te saai.
Jacobus Human van Eerstebos-boerdery en Adriaan Steyn van Wankie-boerdery het al onder skoot gekom omdat hulle van hul diere ontslae geraak het, maar hulle het baie goeie redes vir die rigting wat hulle ingeslaan het.
Heidelberg is waar bewaringsboerdery in die Wes-Kaap posgevat het. Beter toepassing van die beginsels van minimum grondversteuring, behoud van ’n organiese deklaag op die grond en wisselbou het die voordele daarvan net laat versnel.
Dit het ook ’n veegebied in ’n saaigebied omskep.
Die buurmanne probeer nie om ander boere te oortuig om soos hulle te boer nie. Mense moet net verstaan wat hulle doen, en hoekom. “Ek is altyd versigtig en kan nie verwag almal moet toepas wat ek doen nie,” sê Jacobus.
“ ’n Mens moet die kwessie altyd sien in die konteks van waar jy jouself in jou boerdery bevind, en jou eie stelsel volgens jou omstandighede ontwikkel.”
Noudat projeksies oor klimaatsverandering dui op relatief natter toestande vir die oostekant van die Wes-Kaap,