Fielies nommer een het by ons aangesluit in die Kuiseb. Fielies was ’n Topnaar.
By Swakopmund moes ons die nodige permitte gaan haal om in die Namib se Homebwilderniskamp te loop staan. Ons wou voel hoe dit is om stoksielalleen in die middel van die Namib ’n paar nagte te gaan kamp. Ná amper honderd kilometer deur die Namib se noordelike gruiswoestyn (met ’n paar blerrie slegte stukke sinkplaat-pad) het ons by Homeb aangekom en in die koelte van reuseanabome ons tentjie opgeslaan. Dis tóé dat ou Fielies saam met die donkies en bokke en skapies daar aangeflenter gekom het en kom groet het. Afgehaal het ons besef ons was nie alleen nie – ons moes ons stilte met die Topnaars deel. Ons buurman was ’n belangrike man, die Topnaars se kaptein.
Om weg te kom van die hitte, het Fielies dadelik in die anabome se skaduwee in die sand neergeplof. Darem op ’n respekvolle afstand, en hy het nooit ’n oorlas van homself