Ek het ’n vriendin, maar haar naam is nie Lisa soos Laurika Rauch se vriendin in die liedjie “Lisa se klavier” nie. Buiten ’n klavier, het my vriendin ook ’n plaas in Nieu-Seeland se Suid-Waikato-distrik.
Ek het Karen, die vriendin met die plaas en die klavier, deur haar dogter, Billie-Jean, op ’n oueraand ontmoet. Dis maar moeilik om te glo, maar skoolhou het ook sy perks. Een van hulle is dat baie van die kinders in my wiskundeklas se ouers boere is hier op die Nieu-Seelandse platteland. So nou en dan is daar dus darem ’n uitnodiging om ’n draai op die plaas te gaan loop.
Karen boer met sowat 600 melkkoeie op 450 hektaar, net suid van die klein dorpie Mangakino. Alhoewel daar geen natuurlike roofdiere is nie, is daar tog pesdiere weens die afwesigheid van roofdiere om getalle in bedwang te hou. Af en toe kry ’n mens dus die kans om op ’n plaas van die pestilensies te gaan help ontslae raak.
Soos wat die boer jou meer vertrou en die vriendskap met die grondeienaar verstewig, word die jagter gewoonlik ook mettertyd toegelaat om ander wild as die oorspronklike teikenspesies te jag.
My aanvanklike uitnodiging was om hase, waarvan hier ’n oorvloed is, te skiet, asook (buidelrotte) en varke. Ek is nou nie gek kan ’n paar dollar werd wees as ’n mens hulle pluk, amper soos ’n eend, maar ek is nie daarvoor ingerig nie. Wat my egter sommer dadelik ’n datum laat vasmaak het, was die vooruitsig om varke te skiet.