Groot opgewondenheid heers oor vanjaar se Balfourhooidag wat op 19 Januarie buite Balfour, Mpumalanga, plaasvind. Dié demonstrasiedag is terug ná ’n afwesigheid van twee jaar weens covid-19-inperkings en word vanjaar die tiende keer aangebied.
Mnr. Gert Kriek, voorsitter van die Hooidag-komitee, sê met die eerste Hooidag het hulle nooit gedink die dag sal só gewild raak nie.
“Dit het begin as ’n dag vir die Balfour-boerevereniging. Ons het die maatskappye in Balfour en naburige dorpe gevra om hul snymasjiene, balers en algemene hooimaaktoerusting te kom demonstreer.