DIT was die “selfie” waarmee mense wêreldwyd die spot gedryf het. Op die voorgrond was ’n digitale marionet met ’n gladde gesig, ’n afbeelding van Mark Zuckerberg, die hoof van Meta (née Facebook). Op die agtergrond was ’n mini-Eiffeltoring en ’n paar vreemde bosse. Het Meta regtig $10 miljard (R180 miljard) bestee om dít te bou?
Die “foto”, geneem in Meta se virtuelerealiteit- app, Horizon Worlds, is in September op Instagram gedeel en het nie Mark se nuwe metawêreld juis indrukwekkend laat lyk nie. Mark sou later erken dit was “taamlik basies”.
Tog, nadat hy sy maatskappy se hele identiteit op die konsep verwed het, en hy dit sy missie verklaar het om “lewe in die metawêreld te blaas”, is die 38-jarige tegnologiebaas nie van plan om spoed te verloor nie.
Silicon Valley het metawêreldkoors. Volgens ’n McKinsey-verslag het maatskappye in die eerste vyf maande van 2022 meer as $120 miljard (R2,1 biljoen) in metawêreldverwante tegnologie belê.
Die beleggingsbank Citi voorspel die metawêreld kan teen 2030 tot $13 biljoen (R234 biljoen) werd wees. Maar wat ís die metawêreld?
Party mense glo dit is die toekoms van die internet – ’n ruimte wat nie meer net uit plat bladsye en sosiale media bestaan nie, maar ’n driedimensionele wêreld wat jy heeltemal kan betree. Mark noem dit ’n “beliggaamde internet”, waar jy deel van die inhoud is.
Virtuele realiteit (VR) – waar jy ’n kopstuk gebruik wat dit vir jou laat lyk of jy “binne” ’n digitale wêreld is – is sentraal tot Mark se visie, tesame met verrykte realiteit (AR vir augmented reality).
Met laasgenoemde word ’n kopstuk gebruik wat die regte wêreld rondom jou “verryk” met ekstra inhoud. Jy kan byvoorbeeld met die bril op na ’n kennisgewing in ’n vreemde taal kyk en dan die bril vra om dit vir jou te