Sus wou leer voëls jag en die voorreg was myne. Hemingway het geskryf: “All you have to do is write one true sentence. Write the truest sentence that you know. So finally I would write one true sentence, and then go on from there.” Dit was sy metode.
’n Ware sin. Sus wou leer voëls jag. Maar wat het Hemingway bedoel met “one true sentence”? “Something believable,” sê Google, “an accurate retelling of something known or believed, using the most important and precise words”. Eerlike sinne en eerlike stories, sonder pretensie en geite, verduidelik Dana Snyman. Skoongestroopte sinne en stories, klink dit vir my.
Sy het by die plaas aangekom met ’n kapmes vir skoonpa. “Sal Pa asseblief vir my leer om voëls te jag?” Ek kon my opgewondenheid kwalik onderdruk. Ons het tot laat die nag gesels en voëljag tot by sy derms uitgeryg.
HOOFSTUK EEN
Sy kon met my ou SKB begin en eers kyk of sy daarvan hou, was my eerlikste begin. Met ’n 12-boor kan jy jou skouer lelik verniel, maar ek sien sy het klaar besluit.