“Dié duisternis,” onderbreek Panien die stilte. Ek vermoed aanvanklik dat hy na my gemoedstoestand verwys, hier waar ek op die jaghuis se stoep sit, besig om ’n modderprop uit ’n .270 se loop te verwyder. Maar dan voltooi hy die sin, “leer die manne van daar dan nooit skiet nie?”
Dit neem my ’n oomblik om die kloutjie by die oor te bring. Dit was ’n lang, emosioneel uitmergelende dag en my brein is in neutraal. Dan skop my oorwerkte brein in rat en sy vraag begin sin maak. Ons jagkliënt, wat verantwoordelik is vir my beswaardheid én die modder in die geweer se loop, is immers ’n Duitser, of dan ’n “Duister”, soos Panien na hom verwys. Dit maak mos sin dat ’n Duister se tuisland die Duisternis is.
’N GOEIE BEGIN...
Die dag het goed begin en ons gas was in ’n gemoedelike bui. Dit was immers sy eerste jagdag in Afrika. Op ons 100 meterskietbaan het