My 18-jarige matriekseun, Pietman, se stadsjapievriend uit die Kaap sou vir ’n week of twee op die plaas kom kuier. Weens die Covid-19-pandemie en meegaande verbod op binnelandse vlugte en reis oor provinsiale grense heen, het die week of twee uiteindelik ses weke geword. Ses weke in April en Mei op ’n Vrystaatse ranteplaas met oorgenoeg wild beteken net een ding – die eerste biltong van die jaar moes gemaak word!
KITSKURSUS IN SKIET EN VUURWAPENHANTERING
Dit was ’n reuse-uitdaging, want dié matriekseun se kennis en hantering van vuurwapens was, om dit sagkens te stel, minimaal. Volgens hom het hy in die laerskool wel met ’n windbuks na leë koeldrankblikkies teikengeskiet en ’n paar skote met ’n oopvisier-.22. Sy jagervaring was beperk tot ’n tortelduif wat hy op 10-jarige ouderdom op ’n vriend se plot in die Pretoriaomgewing met die einste .22 geskiet het.
’n Kort kursus in vuurwapenhantering en etiket het gevolg. “Benré, ’n mens wys nooit met ’n geweer in iemand se rigting nie, al is dit nie gelaai nie. Jy klim nooit met ’n gelaaide geweer agterop ’n bakkie nie. Jy loop ook nooit met ’n gelaaide geweer in die veld