Dit is halfpad tussen Kersfees en Nuwejaar en almal wat ek ken is by die see. Ek doop ’n stuk karringmelkbeskuit in ’n beker bitter koffie en loer by die venster uit; dit is nog pikdonker buite. Die vakansiegangers in Hartenbos en Margate lê nog knus in hulle kooie. Ek dink aan koue bier om braaivleisvure, smaaklike seekosetes in seefrontrestaurante en bruingebrande lywe op spierwit strande en ek is jaloers. Dan onthou ek van volgepakte strande waar binnelanders wedywer om staanplekke vir hul strandsambrele, verkeersknope, troppe luidrugtige kinders en hulle ontstoke ouers en skielik is ek weer tevre-de met my lot. Ek moet immers vandag gaan jag. Nie dat hierdie tyd van die jaar die mees geskikte tyd daarvoor is nie, maar soos wat ’n ou Amerikaanse kliënt my herinner elke keer wanneer iets nie volgens plan verloop nie: “It is what it is.”
Die weervoorspelling maan dat daar ’n kans op reën is en ek tref die nodige voorsorg deur my reënbaadjie oor die rugleuning van ’n kombuisstoel te hang