In Platteland het ons oor die jare al verskeie bergpredikasies oor kompos, komposwurms en bokashi gelewer – omdat dit waarlik volhoubaar (en verantwoordelik) is om self kompos te maak. Jy hoef ook nie Einstein te wees nie: ’n Mens boots bloot die natuurlike proses na waarmee Moeder Natuur verrottende plante en dierlike uitwerpsel tydsaam in humus verander.
Op ons werf is ’n oorywerige klomp “komposteringsprojekte” aan die gang: ’n groot, verwaarloosde komposhoop met hope dik takke in die olyfboord, twee kleiner komposhokke by die groentebeddings, ’n plastiekkompostoring naby die kombuisdeur, twee wurmplase in die garage, ’n bokashidrom in die spens en ’n staalemmer in die kombuis waarin skille, koffiemoer en teesakkies gaan (en waar daar ondanks jou beste pogings altyd ’n orige muggie of drie draai).
Vir verreweg die meeste verbruikers met ’n tuin of huisplante is kompos iets wat hulle by die kwekery of tuinsentrum of koöperasie koop, en die algemeenste rede wat aangevoer word waarom hulle nié hulle eie maak nie, is die tyd, lus, plek of spierkrag wat ontbreek om ’n warm komposhoop behoorlik te pak en te bestuur – laat staan nog