Meer as 20 jaar gelede het ek ’n tydjie lank vir ’n safarimaatskappy in die ongeskonde kusstreek noord van Beira in Mosambiek gewerk. Dit was moeilik. Die land het pas uit ’n 15 jaar lange burgeroorlog gekom en die buffels en dinge was skaars en uiters wild. Daarby was die omgewing ’n uitdaging, en logistiek ’n nagmerrie so ver van die beskawing. Onder sulke omstandighede was ’n ryding ’n naelstring. Wanneer jy so ver as 70 kilometer van die basis af met ’n jagkliënt ’n tydelike kamp gaan vestig het, was dit jou enigste vervoer en kommunikasie in die yl bevolkte wildernis. Hy moes ook alles karwei: kamptoe-rusting, kliënt, spoorsnyers, slagter en nie die minste nie, ook die kok en sy veldkombuis.
Die Toyota Land Cruisers het hul staal onder hierdie omstandighede getoon. ’n “Pad” was hoogstens ’n versameling slote en gate – soms geblokkeer deur omgevalle bome – wat darem ’n baan deur die ruie bos gebied het. Dan was daar moerasse, talle waterkruisings en ou boomstompbrûe in verskillende stadiums van verrotting. Omtrent al genade was die wete dat die area grootliks vry