Net vir die rekord: My eerste koedoebul het vroegerig een koue wintersoggend in 1989 op die walle van die Lundirivier in die suidooste van Zimbabwe geval ná ’n enkele skoot uit my pa se .300 Weather-by Magnum. Alhoewel geen monster nie, was dit ’n mooi bul. Ek onthou nog soos gister hoe hy plankdwars vir ons staan en kyk het en hoe die Weather-by se kruisdraad oor sy blad gedraai het voor ek uiteindelik die sneller kon druk.
Net soos vir enige jagter, was my eerste koedoe vir my ’n mylpaal. Ek het nou nog die substandaardfoto waar ek met my dik baadjie en die Weatherby langs die koedoe in die lang geel wintergras sit. Ná die eerste koedoe het nog ’n paar gevolg, almal gejag in wat destyds die Noord-Transvaalse Bosveld was. Later het ek nog baie lang, harde kilometers met die geweer oor die skouer deur Zimbabwe se bosse agter dié pragdiere aangestap.
’N GEDUGTE TEENSTANDER
Daar is vir my min dinge so lekker as om stilletjies en alleen, voetjie vir voetjie, koedoes in digte bosse te jag. Hulle is baie uitgeslape karakters met uitstekende sintuie, wat hulle maksimaal tot hul eie voordeel benut. Ek het al menigmale moeg en voetseer die aftog geblaas ná daardie kenmerkende blaf van ’n koedoe wat