Ek het al meermale gestaan en luister hoe jagters met mekaar oor sekere kalibers argumenteer. Dis een van daardie nimmereindigende debatte met geen einde in sig nie, en in baie gevalle is diegene wat argumenteer nie net onkundig nie, maar ook ietwat naïef as dit kom by die plek waar eksterne ballistiek en doodmaakvermoë mekaar ontmoet. Insgelyks die kwessie van ’n “bosgeweer”. Ek het al dikwels in ’n geweerwinkel na ’n bepaalde geweer staan en kyk, net om iemand te hoor sê dat dit ’n ideale bosgeweer sal maak. Derhalwe het ek besluit dis dalk tyd om met ’n bietjie meer aandag te kyk na wat ’n bosgeweer en -kaliber is, of liewer, dalk nié is nie.
DIE GROOT VERSKIL
Ek dink die eerste groot verskil tussen ’n “vlaktekaliber” en ’n “bosveldkaliber” lê in die aanwending van die betrokke kaliber. Op die oop vlaktes van die Vrystaat, Karoo en Kalahari is skietafstande tot so ver as 300 meter niks snaaks nie; ander faktore soos wind speel ook hier ’n rol. Om hierdie rede verkies ek gesoute vlaktejag-kalibers soos die .25-06 Remington, .270 Winchester en 7x64 Brenneke, asook die verskeie 7mm’s en .300 Magnums, gelaai met aërodinamiese koeëls teen flinke trompsnelhede. ’n Springbokram op 250 meter op die oop vlaktes met die windjie wat begin stoot, verg ’n bietjie dinkwerk. Dis helaas nie